Monday, April 9, 2012

Aan dáái Here raak ek verslaaf


Geskryf deur Christina Landman

Ek sien nou die dag op televisie ’n man op sy knieë val. Hy sê dankie dat hy so ’n goeie sjef geword het. Dat die Here nou ’n man so goed moet laat kook. Ek dog, dis my Here daai!

Waar is my Here nog, sal julle vra? Ek hoor my Here. Hy praat in die woorde van die dominee wat gesê het: Vat die doopwater wat oorbly en meng sement vir iemand wat nie ’n huis het nie. En vermeerder die nagmaalsbrood om mense se mae vol te maak.

En wanneer die NG Kerk besluit om die pad met Belhar te loop, dan sien ek my Here stap saam. En wanneer my Here duisende mense by die NG Kerk wegraap, dan vra ek Hom of hulle tog nou op ’n beter plek is. En of hulle nie nou in kerke vol bangbroeke is nie, maar saam met God aan die kant van die armes en onderdruktes staan.

Ek vind my Here daar onder die getroue Bybellesers wat elke woord van die Woord koester en in hul hart bewaar. En as ek na die Nuwe Hervormers kyk, dan sien ek ook my Here daar, al lyk hy weliswaar bo 60.

En gaan ek na die Woordfees in Stellenbosch toe, is my Here sowaar ook daar. Ek moes hom egter soek, hoor. Ek soek hom in die boeke oor God wat daar bekend gestel is. Ek soek hom daar saam met die ander soekers, en daar staan ons en soek rond, ons kan nie anders nie.

Ek soek my Here daar waar die ateïste sê hy is, naamlik in niemandsland. Maar daar vind ek nie my Here nie. Die fundamentalistiese, selfversekerde, vreesaanjaende god waaraan die ateïste nie glo nie – dit is nie my Here daai nie. Daardie god waarin hulle nie glo nie, het ek lankal afgesterf. Ek soek hom nêrens nie.

Maar ek hoef nie na ’n boekefees te gaan om my Here te kry nie, nie by die Klein Karoo of CUM, wat al twee op Goeie Vrydag oop is nie. Ek sien my Here in my ma se instrukteur wat aërobiese oefeninge vir mense in rolstoele gee. Ek ruik my Here in die vars sweet van ou liggame.

Ek soek die Here met die jeug wat nie hospitaal toe gaan wanneer hulle nie siek is nie. Ek soek die Here by die jeug wat genesing soek niks nader as die kerk se hoë omheinings nie. En wat nuwe waardes vir hulself uitkreun in ’n wêreld wat ons vir hulle verwoes het.

Ek sien my Here in iemand wat tee maak vir een wat moeg lyk. Ek voel my Here wanneer iemand skielik jou rug masseer as jy nie kan regop kom nie.

Ek het my Here gevind hierdie Paasfees. Nie in die Jesus wat deur bloeddorstige predikers weer terug aan die kruis gehang is nie. Maar in die Christus wat elke keer weer opstaan in gewone plekke en in ongewone mense. Soos in ’n gay wat sy menswaardige plek in die samelewing vind.

En ek sien ook my Here daar waar hy huil, daar waar ons hom nie van die kruis wil afhaal nie. Sy oë huil van die koolstof waarmee ons sy pyn probeer verlig, daar waar hy in die hel van ons verbruikersvraatsug hang.

Maar ek sien ook dat my Here huil omdat die kerk nie sy sosiale kapitaal gebruik nie. ’n Kerk het sosiale kapitaal wanneer hy meer as ’n kerk is.

Wanneer hy nie net Sondag sondesittings het nie, maar sy mensekapitaal deel met die omgewing, met die mense wat hulp nodig het, met die maatskaplike dienste en die regering van die dag.

Hoeka sê politici al hoe meer: ons het die kerk nodig. En dis my Here daai wat maak dat mense hul hande vuilmaak om die ellende van ander minder te maak.

Ek sien my Here daar in die skaduwee op die bodem van die afgrond. Daar waar hy ons met hoop bedwelm.

Ek sien my Here daar by mense wat pyn het waaroor hulle nie mag huil nie. Soos mense wie se kinders hul harte gebreek het. Soos mense wat hul kinders aan dwelms verloor het. Mense wat pyn het wat geheim moet bly.

Aan so ’n Here raak ek maklik verslaaf. Dis my Here daai.

Bron: www.beeld.com

Professor Christina Landman het sewe grade aan die Universiteite van Pretoria en Suid-Afrika behaal. Sy het haar laaste graad (D th - Pastorale Terapie) in 2007 behaal.


Publikasies:
  • Christina is skrywer van 10 akademiese en populêre boeke, onder andere, eindredakteur en mede-skrywer van “Leefstyl-Bybel vir Vroue” wat in 2004 die Christelike Boekskrywers van Suid-Afrika se Boek van die Jaar toekenning gekry het.
  • Sy is die afgelope 15 jaar rubriekskrywer van Beeld se “Godsdiens-Aktueel”.
  • Sy was ook die skrywer van 56 akademiese artikels wat in geakkrediteerde tydskrifte verskyn het.

No comments:

Most viewed posts:

tia4christ.blogspot.com