Thursday, September 9, 2010

GESIGTE VAN AFRIKANERARMOEDE

Verslag saamgestel deur Solidariteit Helpende Hand vir die President van Suid-Afrika Sy Edele mnr. Jacob Zuma
__________________________________________________________________

Geagte President Zuma

U besoek aan die wit informele nedersetting te Betlehem op 24 Julie 2008 was histories om twee redes – vir die eerste keer in die geskiedenis het 1 300 arm Afrikaners saamgetrek waar daar nie oor hulle gepraat is nie, maar met hulle. Tweedens was dit ook die eerste keer wat die ANC leierskap werklik arm Afrikaners ontmoet het.

U het die dag gesê dat u geskok was oor die toestande in wit plakkerskampe en dat die probleme nie verskil van dié in swart- en bruin plakkerskampe nie. Die koue wintersdag was egter ‘n dag van hoop vir die 1 300 arm Afrikaners wat by Betlehem saamgetrek het om u te ontmoet. Daardie dag het u reguit gesê dat armoede geen kleur ken nie en alle armes is geregtig op dieselfde behandeling deur die staat. U het vir die wit armes hulp gebring in die vorm van staatsdepartemente wat hulle kon help om te registreer vir ID dokumente, voedselkoepons en maatskaplike toelaes. U het nuwe hoop gebring deur te verseker dat daar ook vir wit armes verdere hulp sal wees met elektrisiteit, behuising en basiese dienste.

U optrede die dag het die probleem van wit armoede belig as deel van die groter Suid-Afrikaanse armoedevraagstuk. Dit het ‘n positiewe rimpel effek gehad. Leiers regoor die breë politieke spektrum het kennis geneem van die nuwe stillle armoede onder Afrikaners en het uitgereik na wit armes. Honderde internasionale joernaliste het reeds wit plakkerskampe besoek. U het dit polities korrek gemaak om ook oor Suid-Afrika se wit armes te praat. Die destydse Umsobomvu Youth Fund, tans die NYDA (National Youth Development Agency), het ‘n onafhanklike ondersoek geloods en bevind dat die regering die definisie van voorheen benadeelde mense moet uitbrei om die wit jeug tussen 18-35 met ‘n inkomste van R500-R3000 per maand, in te sluit. Volgens die ondersoek is die arm wit jeug beslis een van die mees gemarginaliseerde groepe in Suid-Afrika.

Saam met die wit armes het Helpende Hand die dag geglo dat daar onder u leiding ‘n nuwe era sal aanbreek waar ons, as Afrikaners, saam met ander gemeenskappe en die staat kan werk aan ‘n groter oplossing vir die armoedevraagstuk.

Die historiese dag was u geskok oor die toestande in wit informele nedersettings. Ek glo u sal ook geskok wees om te verneem dat daar daardie dag slegs 40 voedselkoepons aan die honger mense uitgedeel is en daarna slegs ‘n verdere 120. ‘n Week later is die hulp gestop omdat staatsamptenare gesê het dit is rassisties om honger wit mense te help. U sal saamstem dat die 160 voedselkoepons wat sedert 2008 uitgedeel is te min is om 600 000 wit armes te oortuig die staat gee regtig om.

U sal geskok wees om te weet dat Heila Rothmann, ‘n siek en sterwende kankerlyer, vir etlike dae van 6 uur die oggend tot 17:00 in die middag in ‘n ry moes staan net om op 6 Maart om te hoor haar vyfde aansoek vir ‘n ongeskiktheidstoelaag afgekeur is. ‘n Week later het sy gesterf.

Geagte meneer Zuma, u het self gesê om arm te wees, geen kleur ken nie, maar hoekom lyk wit armes dan vandag anders in die oë van ons regering?
U het self geveg teen wette wat sekere rasse van basiese regte ontsê, maar in vandag se Suid-Afrika kyk mense juis in armes se kleur vas en maak velkleur dat alle armes in die land nie hulp kry nie.

Hierdie verslag wat spesiaal vir u saamgestel is wil nie op emosies speel nie, maar slegs die seer van stories vol pyn met u deel. Dit wil slegs vir u ‘n ware prentjie gee van hoe dit werklik met wit armes op grondvlak gaan. Ons besef soortgelyke seer stories vol pyn gebeur ook elke dag in ander arm gemeenskappe, in arm swart-, bruin- en Indiër gemeenskappe, maar ook in die arm wit gemeenskap van Suid-Afrika.

U sal saamstem in ‘n land van hoop moet dit nie nodig wees vir kankerlyers om te huil van pyn omdat hulle nie toegang tot gesondheidsdienste het nie, of vir weerlose bejaardes om van honger te lê en doodgaan nie, of vir jong dogters om hulle liggame te verkoop sodat hulle kan eet nie, of vir jong ma’s om uit wanhoop hulle pasgebore babas op ashope weg te gooi omdat hulle nie weet hoe hulle vir die kleintjie gaan sorg nie. Ierse filosoof Daniel O Connell het gesê: “ Nothing is politically right when it is morally wrong”.

Meneer Zuma in 2008 was u die ANC se president. Vandag is u Suid-Afrika se president. Ons land het genoeg onregverdigheid gesien. Genoeg sleg en pyn en hartseer. Die waarheid is dat dit vandag nog slegter gaan met die Afrikaanse gemeenskappe sedert u besoek in Julie 2008.

Ons vra u om vandag weer geskiedenis te maak deur die hoop wat u in 2008 gegee ‘n werklikheid te maak.

Dr Danie Langner
Uitvoerende Direkteur
Solidariteit Helpende Hand


Plakkershuise soos hierdie word deur blankes bewoon, en kan vandag in elke deel van die land gesien word. Water en saniteitsdienste is afwesig, wat groot gesondheidsrisiko’s veroorsaak.


“Ons mense steek hulle armoede weg. Ons is skaam. Agter die mure van klein stads-raadhuisies huil kinders elke nag van die honger.”
Ina van Heerden, Wolmer, Pretoria-Noord



FEITELYS OOR WIT ARMOEDE:

  • Demograwe toon dat 600 000 Afrikaners tans as arm geklassifiseer kan word.

  • 46% van wit huishoudings kan nie ’n huis van meer as R200 000 bekostig nie.

  • Daar is tans 77 wit plakkerskampe in Pretoria alleen en meer as 430 landswyd.

  • Tussen 1994 en 2005 het wit armoede met 150% toegeneem.

  • Daar is tans 131 000 wit huishoudings wat nie voldoende behuising het nie.

  • Die behoefte aan voldoende huisvesting gaan na verwagting met ongeveer 7 500 huise per jaar toeneem.

  • Om die agterstand van behuising onder arm wit mense oor die volgende tien jaar uit te wis, moet ’n gemiddeld van 14 000 HOP-huise per jaar vir arm wit mense gebou word.

  • Navorsing toon die grootste behoefte aan behuising onder wittes is tans in Gauteng en die Wes-Kaap.

  • Vir die eerste keer sedert die dertigerjare van die vorige eeu is daar groeiende getalle armblankes en is daar ‘n nuwe verskynsel van blanke plakkersgebiede wat rondom veral groter stede soos Pretoria vorm.



1. Weerlose bejaardes en ‘n gebrek aan toegang tot gesondheidsorg
  • Navorsing deur Helpende Hand toon dat 63% van die inwoners van die 77 wit informele nedersettings in Pretoria 60 jaar en ouer is.

  • Daar is tans slegs een maatskaplike werker vir elke nagenoeg 4 000 Suid-Afrikaners.
  • Vir die eerste keer in die geskiedenis is maatskaplike werk as ‘n skaars vaardigheid geklassifiseer.

  • Hierdie tekort aan maatskaplike werkers beteken uiteindelik dat daar nie doeltreffend na die maatskaplike nood van veral behoeftige kinders en bejaardes omgesien kan word nie.

  • ‘n Totaal van 2 100 armoedesake word tans deur die Centurion Raad vir Bejaardes ondersoek.

  • Volgens Pretoria Bejaardesorg word daar ongeveer 1 000 gevalle van bejaardeverwaarlosing per maand by die organisasie aangemeld.

  • Die destydse Umsobomvu Youth Fund, tans NYDA (National Youth Development Agency), het ‘n onafhanklike ondersoek geloods en bevind dat toegang tot ongeskiktheidstoelae in arm wit gemeenskappe baie laer as in arm swart gemeenskappe. Volgens die verslag is dit ongelooflik moeilik vir die inwoners van wit gemeenskappe om toegang te kry tot ongeskiktheidstoelae.

  • Die meeste arm swart gemeenskappe het toegang tot satellietkantore van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling. Die kantore hanteer aansoeke vir toelae wat dan deurgegee word aan die hoofkantoor. Hierdie diens is nie beskikbaar in behoeftige wit gemeenskappe nie.



2. Kinders – die weerlose slagoffers van armoede

  • Toenemende armoede kan direk verbind word met die toename in kindermisdaad as gevolg van ‘n verswakking in die maatskaplike omgewing waarin armoediges hulself bevind, sowel as toenemende druk op gesinsstrukture.

  • Solidariteit Helpende Hand se kindermishandelingverslag wat verlede jaar vrygestel is het bevind dat slagoffers van seksuele mishandeling in 90% van gevalle die oortreders ken.

  • Elke dag word 60 gevalle van kinderverkragting en 13 gevalle van kindermishandeling in Suid-Afrika aangemeld.

  • Na beraming word 88% van verkragtings nie aangemeld nie.

  • 45% van alle verkragtings wat aangemeld word, is kinderverkragtings.

  • Die ongekontroleerde omstandighede waarin kinders regoor Suid-Afrika in die meer as 430 informele wit nedersettings woon maak hulle maklike teikens van gewetenlose misdadigers en uitbuiting deur meerderes.

  • ‘n Maatskaplike werker in Pretoria wat verkies om anoniem te bly vermoed dat meeste van die kinders in wit informele nedersettings konstant verkrag, gemolesteer en fisies mishandel word sonder dat hulle toegang het tot maatskaplike hulp. Kinders word dikwels op seksuele vlak misbruik vir die ekonomiese oorlewing van hulle ouers.



3. Behuising, elektrisiteit en leë beloftes

  • Die Tswane-metroraad het sedert 2003 reeds 565 HOP-huise aan behoeftige witgesinne in Wolmer, Jan Niemandpark, Hermanstad en Elandspoort beloof.

  • Die realiteit is dat slegs twee wit gesinne sedert 2000 in Tshwane ‘n staatsgesubsidieerde huis ontvang het.

  • Dit blyk dat die armes die huise by die metro sal moet aankoop. Dít terwyl die metroraad self die huise destyds gratis van die regering ontvang het en dit nooit in stand gehou het nie.

  • Volgens Helpende Hand se navorsing is daar tans ongeveer 131 000 wit huishoudings is wat nie voldoende behuising het nie. Hierdie mense woon in ou hoenderhokke, wit plakkerkampe, stukkende karavane, tente, Wendy-huise en informele sinkstrukture.

  • 46% van witgesinne kan nie ‘n huis van meer as R200 000 bekostig nie.

  • Die aantal witgesinne wat minder as R68 400 per jaar verdien, neem jaarliks met ongeveer 37 000 toe. Om die huidige agterstand van behuising onder armwittes oor die volgende tien jaar uit te wis, moet daar gemiddeld 14 000 HOP-huise per jaar vir armwittes gebou word.

4. Opleiding

Statistiek oor opvoeding

  • Die vakbond Solidariteit se navorsingsinstituut het onlangs bevind dat sowat 85 000, oftewel 23%, van die geskatte 363 000 matrikulante wat 2009 se matriekeksamen behoort te slaag, in 2010 werkloos wees. Dit sluit nie die sowat 218 000 leerlinge wat waarskynlik nie matriek gaan slaag nie, in nie. Die aantal leerders wat vir matriek ingeskryf het in 2009 maar in 2010 werkloos gaan wees, sal dus nog heelwat hoër wees as die 85 000 of 23% van leerders wat matriek geslaag het.

  • Hierdie amper 600 000 matrieks wat in 2009 matriek geskryf, het begin as ‘n Gr 1 klas van 1,6 miljoen leerlinge. Dit beteken dat daar nog ‘n miljoen toetreders tot die ekonomie is wat nie in berekening gebring is in die navorsing nie.

  • Die verslag wys dat sowat 8,9% van mense met tersiêre kwalifikasies wat werk soek nie werk kan kry nie, terwyl ongeveer 25,7% van persone met matriek as hoogste kwalifikasie, werkloos is.

  • ‘n Plaaslike laerskool in Pretoria het onlangs by die Departement van Onderwys vir staatshulp aansoek gedoen om minderbevoorregte wit kinders te help. Die aansoek is afgekeur.

  • Navorsing deur Helpende Hand toon dat die meeste van die Hoërskoolleerlinge in die informele nedersettings in Pretoria nie skool toe gaan nie. ‘n Gebrek aan vervoer, finansies en onveilige omstandighede word as die hoof redes van die verskynsel voorgehou.

5. Leë beloftes en ‘n gebrek aan opheffingsprojekte

  • Baie inwoners in arm gebiede in Pretoria sukkel egter om as armlastig geregistreer te word weens ‘n gebrek aan hulp van die Tshwane Metroraad. Baie inwoners ontvang dus nie gratis water en elektrisiteitseenhede nie.

  • In die hele Pretoria is daar sedert President Zuma se besoek slegs 160 voedselkoepons aan inwoners oorhandig ten spyte van verskeie beloftes wat nie nagekom is nie.

  • Hoewel daar reeds in 2008 beloof is dat dié gemeenskappe ook toegang sal hê tot staatshulp, is verskeie aansoeke om regeringshulp afgekeer.

  • In Pretoria het ‘n maatskaplike werker van die Eleōs Gemeenskapsentrum by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aansoek gedoen vir fondse vir die ondersteuning van gemeenskapsontwikkelingsprojekte. Die aansoek is afgekeer.

‘n Noodkreet wat Helpende Hand ontvang het . . .

Ek skryf hierdie brief met ‘n eina-hart.

In Pretoria, by die Melgisedekblok, net so duskant die ou HF Verwoerd Hospitaal, is daar kamers.

Dit is ‘n ou stadsraad gebou, voorheen was daar elektrisiteit en ‘n kombuis. Die mense het voorheen losies betaal en dan uit die kombuis kos gekry, maar vandat die vorige eienaar weggeloop het met die huurders se geld en nie die dienste betaal het nie, weier die stadsraad om die krag weer aan te sit.

Binne in hierdie kamers is mense met waaragtige nood. Alle ouderdomme. Kinders ook. Daar is ‘n besonderse ouer dame. Ek kry skaam om te sê dis my ma – want ek kan haar nie help nie. Haar omstandighede is uiters haglik.

Tans bly my ma saam met vyf ander mense. Sy slaap op die vloer met ‘n matras. My ma is 70 en verdien slegs ‘n staatspensioen en kan dus nie eens daaraan dink om ‘n bed te koop nie.

Uit haar karige ou staatspensioentjie moet sy vir al vyf mense, insluitend ‘n baba van amper twee jaar oud, kos gee. Sy kan nie.

Die “gel” wat hulle gebruik vir die kosstofie kos haar so R20 vir drie dae. Mens kan dus uitwerk hoeveel geld daar nou regtig oor is om ‘n stukkie kos te koop. Hulle bad in skottels en was die wasgoed ook so. Dit is erg. Veral vir iemand wat 70 jaar oud en sieklik is. Ek kan nie eens vir haar ‘n bed koop nie want ek is self bankrot verklaar.

Ek is nie bekommerd oor myself nie, maar wel oor haar en die klein seuntjie. My hart sê net vir my die kind kan nie so groot word nie. Hy moet heeldag stil bly omdat van die mense wat daar woon nagskof werk en vloek. Hulle verskreeu my ma as die seuntjie bietjie huil in die dag.

Ek hoop en bid dat iemand my ma en die klein seuntjie kan help.

Groete
Martie

____________________________________________________________________

Die foto’s en woorde hierbo is per e-pos ontvang in ‘n pdf dokument, wat deur Solidariteit Helpende Hand saamgestel was. Ek weet ongelukkig nie waar die verslag aanlyn afgelaai kan word nie, - miskien iewers op die webwerf van Solidariteit Helpende Hand - http://www.helpendehand.co.za

Die verslag bevat veel meer inligting en stories van weerlose arm bejaardes, hartseer stories van pyn, en van kinders se seer. Die verslag bevat ook talle foto’s (Gesigte Van Afrikanerarmoede) wat ek nie graag op hierdie blad wil dupliseer nie, aangesien ek persoonlik voel dat arm mense ook hul trots het.

Bid asseblief vir hierdie mense en ons land. Bid vir ons leiers ook! Die wiel moet draai!

Die Missie van Solidariteit Helpende Hand
Om armoede te voorkom en maatskaplike nood te verlig, hoofsaaklik in gemeenskappe waar staatshulp nie algemeen beskikbaar is nie; en om te verseker dat goeie sorgstandaarde gehandhaaf word.

1 comment:

Marlene said...

Dankie Solidariteit wat julle vir die armes van die armes van ons volk doen!

Most viewed posts:

tia4christ.blogspot.com